Studierigtings

Geografie- onderwys en omgewingsopvoeding

Oorsig

Die vakgroep Geografie- onderwys en Omgewingsopvoeding, is ’n dinamiese en lewendige groep binne die Skool vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie vir Onderwys. Ons doel is om ’n hoë standaard van onderwysersopleiding te verskaf om ons studente te bemagtig met die kennis, vaardighede en waardes wat nodig is om meesters van hulle professie te word.

Die vak Geografie in die voorgraadse BEd-program bied ’n wye reeks temas wat spesiaal uitgesoek is om die geografie in te sluit wat nodig is om die skoolkurrikulum te dek.

Temas:

  • Afrika en Suid-Afrika (fisiese, ekonomiese en bevolkingsgeografie), planetêre geografie, klimatologie en oseanografie
  • Nedersettingsgeografie, basiese geomorfologie, ekonomiese geografie, omgewingsgeografie
  • Gevorderde bevolkings- en stedelike geografie, gevorderde geomorfologie en klimatologie, vakmetodiek en metodologie, kaartwerk, digitale geografie (GIS, GPS, ens.) en lugfotografie

Nagraadse temas en navorsingfokus hoofsaaklik binne die veld van Onderwysgeografie: Filosofie en metodologie in geografie-onderrig, onderrig- en leervaardighede in geografie, selfgerigte leer, aktiewe leer en leerdergesentreerde onderrig (praktiese onderrig) in geografie-onderrig, die integrasie van verskeie ICT’s in geografie-onderrig, digitale geografie en georuimtelike tegnologie in geografie-onderrig en omgewingsonderrig.

Graad opsies

Natuurwetenskap-Onderwys

Oorsig

Opvoedkundestudente wat die vakke Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe vir Onderwys neem, kwalifiseer om in die sekondêre skoolsektor (graad 10-12) onderrig te gee, terwyl studente wat die Natuurwetenskappe-leerarea neem leerders in die Intermediêre en Senior Fase (graad 4-9) kan onderrig.Daarbenewens word die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) aangebied vir studente wat reeds ’n graad verwerf het wat hulle in staat stel om twee vakke te onderrig. Studente wat van plan is om Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe te neem, moes ten minste 50% in onderskeidelik Lewenswetenskappe en Fisiese Wetenskappe in hulle finale graad 12-eksamen behaal het. Daar is geen voorvereistes vir studente wat die leerarea Natuurwetenskappe wil neem nie.

Graad opsies

Rekenaarwetenskaponderwys

Oorsig

Die vakgroep Rekenaarwetenskaponderwys is verantwoordelik vir die opleiding van onderwysstudente deur middel van die Baccalaureus Educationis (BEd) graad en Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) in die vakke Inligtingstegnologie-onderwys en Rekenaartoepassingstegnologie-onderwys. Geen spesifieke voorvereistes word gestel vir voornemende eerstejaarstudente wat hulself in hierdie vakrigtings, waarin daar ’n groot tekort aan opgeleide onderwysers is, wil bekwaam nie. Onderrig word ook op honneurs-, magister- en doktorale vlakke in hierdie vakke verskaf.

Die vakgroep neem verantwoordelikheid vir rekenaargeletterdheidsmodules en modules aangaande die integrasie van tegnologie in die onderwys, in die BEd, ACT, ADE en ADT programme wat ook op afstandmodus aangebied word.

Verder, is alle personeel verbonde aan die vakgroep aktiewe navorsers in die Selfgerigte-leer (SDL) fokusarea. Personeel het reeds verskeie artikels in geakkrediteerde tydskrifte nasionaal en internasionaal gepubliseer, om die onderrg-leer van studente te verbeter. Personeel is ook aktief betrokke by die lewering van referate op akademiese kongresse.

Graad opsies

Tegnologie Onderwys

Oorsig

Die program is gemik op voornemende onderwysers wat ’n gefokusde onderwysgraad wil verkry wat hulle met die basiese kennis en teoretiese begronding sal toerus om hulle in staat te stel om Elektriese Tegnologie, Meganiese Tegnologie, Siviele Tegnologie, Ingenieurstekening en -ontwerp te onderrig, asook die vak Tegnologie binne die konteks van die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV).

In ooreenstemming met die verwikkelinge in die Departement van Basiese Onderwys rakende die spesialisering in die verskillende tegnologievakgroepe het die Vakgroep Tegnologie ook daarby aangepas en kan die spesialiserings soos volg aanbied: Elektriese Tegnologie (Elektronika en Elektrisiënswerk); Meganiese Tegnologie (Motorwerktuigkunde, Pas- en Draaiwerk, Sweis en Metaalwerk) en Siviele Tegnologie (Houtwerk, Boukonstruksie en Siviele Dienste).

Navorsing in die vakgroep fokus veral op die ontwikkeling en verbetering van die onderrig in Tegnologie op skoolvlak asook in tersiêre opleiding.  Personeel is aktief betrokke by nagraadse studies of by studieleiding aan nagraadse studente. Referate wat by internasionale en nasionale konferensies gelewer word en artikels wat gepubliseer word, is deel van die groep se uitsette.

Graad opsies

Wiskunde-Onderwys

Oorsig

Die vakgroep Wiskunde- Onderwys van die Fakulteit Opvoedkunde poog om die volgende intellektuele vraagstuk te hanteer: Hoe kan die doeltreffende opleiding van Wiskunde-onderwysers deur die ondersoek van realistiese kontekste in die werklike lewe verkry word. Verder, hoe kan opwindende nuwe idees in Wiskunde-onderrig, soos die gebruik van dinamiese Wiskunde-sagteware en -tegnologie gekombineer met ’n leerdergesentreerde, ondersoekende benadering tot leer, gebruik word om die leerervaring van voornemende Wiskunde-onderwysers te bevorder

Om in spesialisopleiding vir Wiskunde-onderwysers vir sekondêre en primêre skole, Wiskundige Geletterdheid-onderwysers en Tegnologie-onderwysers te voorsien, bied ons verskeie parallelle bane binne die BEd-program. Die fokus is om die studente aan groot idees binne die gebied van Wiskunde bloot te stel, en hoe hierdie idees ons in staat stel om kontekste in die werklike lewe te verstaan, beskryf en bestuur. Ons doel is om moeiteloos saam te smelt met die metode van Wiskunde-onderrig soos dit binne die BEd- en NGOS-programme manifesteer.

Ons neem ook met entoesiasme saam met verskeie van die lede van die vakgroep wat by nasionale navorsingsprojekte betrokke is aan die navorsing oor Wiskunde-onderrig deel. Die vakgroep verskaf ook intensiewe steun aan nagraadse studente in Onderwyswiskunde.

Ons is trots daarop om te sê dat ons aktiwiteite gekenmerk word deur hoë vlakke van energie, kreatiwiteit en entoesiasme ten einde Wiskunde en Onderwyswiskunde aan te bied as die kragtige, dinamiese, verrykende ervaring wat dit behoort te wees.

ʼn Wiskunde opknapkursus word jaarliks deur die vakgroep Wiskunde en Toegepaste Wiskunde aangebied vir alle studente wat wil inskryf vir programme in Ingenieurswese, Natuurwetenskappe, Gesondheidswetenskappe , Ekonomiese Wetenskappe, Opvoedkundige Wetenskappe en ander programme met Wiskunde as hoofvak. Die kursus word aan die begin van die jaar, voor die aanvang van die klasse aangebied. ʼn Toets word vooraf geskryf om te bepaal wie verplig is om die kursus by te woon.

Wiskunde Opknappingskursus

Werkboek

Graad opsies