Kwaliteitsversekering

Kwaliteitsversekering

Ter ondersteuning van die visie van die NWU, naamlik om ʼn toonaangewende universiteit in Afrika te wees, gedryf deur die strewe na kennis en innovasie, volg die Fakulteit Opvoedkunde die kwaliteitsbeleid van die Universiteit. Dié beleid is geformuleer om die ontwikkeling en implementering van ’n institusionele kwaliteitsbestuurstelsel te stuur na voortgesette kwaliteitsverbetering en die bevordering van 'n kultuur van voortdurende verbetering.

Die Fakulteit strewe daarna om ʼn kwaliteitsfokus te bevorder wat noodsaaklik is vir die verwesenliking van die visie en missie van die NWU. Die daarstel van ʼn kwaliteitsbestuurstelsel in die Fakulteit wat inskakel by die taak van die Institusionele Kwaliteitskantoor word dus nie as ’n gebeurtenis nie maar eerder as ’n deurlopende proses beskou.

Kwaliteit word deur selfgedrewe interne en eksterne evalueringsprosesse verseker. Op fakulteitsvlak is kwaliteitsversekering die verantwoordelikheid van die dekaan, skooldirekteure, lektore en ondersteuningspersoneellede. Voorts streef die Fakulteitsraad en komitees vanuit dié struktuur, soos die Onderrigkwaliteits-, Navorsings-, Eksamen-, Diensleer- en Werk-geïntegreerdeleer-komitees, om bestaande kwaliteitsprosesse te verbeter en nuwe prosesse daar te stel. Sodoende vind voortdurende verbetering in onderrig-leer, navorsing, die implementering van deskundigheid en gemeenskapsbetrokkenheid plaas.

Die Onderrigkwaliteitskomitee ondersteun die dekaan in sy verantwoordelikheid om te verseker dat toepaslike onderrigprogramme van hoë gehalte, wat aan interne en eksterne gehalteversekeringsvereistes voldoen, toegepas en bestuur word. Dié komitee poog ook om innoverende onderrig-leer in die Fakulteit aan te moedig om sodoende afgeronde graduandi af te lewer wat in diverse gemeenskappe ʼn bydrae kan maak.

Tydens eksterne evaluerings word die interne evalueringsproses bevestig deur kundiges van buite die NWU. Die Raad op Hoër Onderwys se Hoër Onderwys Kwaliteitskomitee evalueer ook die kwaliteit van akademiese programme. Alle onderwyskwalifikasies is deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid, Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, en die HOKK geakkrediteer.

Die Kwaliteitshandleiding verskaf ʼn uiteensetting van die (a) kwaliteitsversekering, wat behels die reëlings wat die Fakulteit daargestel het vir studente om die Fakulteit se standaarde te bereik, en (b) kwaliteitskontrole, wat die gedetailleerde prosesse behels om te verseker dat hierdie reëlings effektief is.