Afrikaans is een van die jongste tale in die wêreld en het (soos Hindi, Moderne Hebreeus en Indonesies) eers gedurende die 20ste eeu ten volle ’n gestandaardiseerde taal geword. Om hierdie rede is daar wêreldwyd belangstelling in Afrikaans. Afrikaans kan onder andere in Nederland, België, Duitsland, Pole en Amerika as universiteitsvak geneem word. Afrikaans is een van elf amptelike tale van Suid-Afrika en is die moedertaal van die meerderheid van die studente wat op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit studeer. Kennis van soveel as moontlik tale is vir onderwysers in ’n veeltalige land soos Suid-Afrika binne die geglobaliseerde wêreld van vandag ’n besondere bate. Daarom word daar van die onderwysstudente verwag om meer as een taal as onderrigmedium te kan gebruik. Daar word ook heelwat navorsing gedoen oor onderrig deur medium van’n tweede of derde taal, sowel as oor die onderrig van tweede en derde tale – eersgenoemde veral deur die vakgroep Engels en laasgenoemde veral deur die vakgroepe Afrikaans en Tswana.