Studierigtings

Skeppende kunste in Onderwys

Oorsig

Waarom moet ek Skeppende Kunste in Onderys oorweeg?

Die visuele kunste, musiek en ander kreatiewe en uitvoerende kunste speel ’n baie belangrike rol in die optimale ontwikkeling van die totale mens. Van kleins af is dit ’n aangebore begeerte by die mens om te kan skep. Kleiner kinders skep spontaan, maar soos wat ons ouer word, verloor ons soms ons spontaneïteit en ons verbeeldingryke omgaan met die wêreld om ons. Kuns, musiek en ander kreatiewe uitinge gee aan ons die geleentheid om die speelse, spontane en verbeeldingryke dele van ons persoonlikheid te ontwikkel.

Kreatief-wees is die storie van die mens. As jy insig wil verkry in die optrede en gedrag van mense, in jou eie optrede en gedrag, en in die stories agter die stories van “groot” politiek, dan is Kreatiewe en Uitvoerende Kunste net die regte vak vir jou. Dit leer jou krities dink. Lawrence Calcagno het dit goed opgesom: “As an artist, it is central to be unsatisfied! This isn’t greed, though it be appetite”.

Die Skeppende Kunstestudent is ’n persoon wat dieper kyk, dieper verstaan en dieper beleef. Dit is hierdie eienskappe wat van jou ’n passievolle mens maak. Jy daag die lewe uit omdat jy altyd die groter prentjie sien en maak só ’n werklike verskil aan die gemeenskap. Die kunstenaar is die een met die derde oog, die profeet wat orde sien binne die wanorde van die wêreld waarin hy leef.

Skeppende Kunste is ’n kontemporêre studieveld, dit is sterk gedrewe deur kritiese denke, probleemoplossing en onafhanklike en self-gerigte leer, dit ontwikkel al die sintuie en bied kreatiewe stimulasie. Dit sluit aan by baie ander studierigtings, byvoorbeeld Sosiale Studies, Sielkunde, Argeologie, Grafiese Ontwerp en ander multimediarigtings soos die letterkunde, om maar ’n paar te noem. Dit stimuleer probleemoplossende denke, ’n waardering vir die estetiese en ’n begrip vir, en van, die innerlike lewe van die mens.

Dit is ’n universele taal wat net so goed in Japan as in Potchefstroom verstaan word. Daar is nie ’n enkele aspek van die samelewing wat nie op een of ander manier deur die Kreatiewe Kunste geraak word nie. Dink maar aan die ontwerp van die pen waarmee jy skryf, of die patrone op die lap van jou hemp, die toneel- en filmwêreld, die wêreld van musiek en die belangrike rol wat dit in ons daaglikse handel en wandel speel ...

Skeppende Kunste bied heelwat beroepsmoontlikhede, buiten dié in die onderwys. Jy kan kies en keur uit die moontlikhede wat hierdie mooi vak jou bied: joernalis, film- of kunsresensent, kurator of galerybestuurder, kunsterapeut, musiek, dans- of drama-onderwyser, enige kultuurgedrewe beroep, web-ontwerper, ensovoorts.

Voorts is Skeppende Kunste een van die baie skaars vaardighede wat die WEF (World Economic Forum) lys as van die belangrikste vaardighede om vir die 21e eeu te hê.

Kom sluit by ons aan en bevry jouself van eng en oningeligte denke. Koningin Victoria het baie jare gelede al gesien dat kunstenaars die waarheid ontbloot toe sy ’n waarskuwing aan haar mense gerig het: “Beware of artists – they mix with all classes of society and are therefore most dangerous!” Wat ’n kompliment! Kom wys dus jou “gevaarlike” kant in ’n baie veilige en lekker omgewing.

Graad opsies

Ekonomiese en Bestuurswetenskaponderwys

Oorsig

Die fokus van hierdie vakgroep is om studente-onderwysers in opleiding toe te rus om die vakke van spesialisasie te fasiliteer deur die sakewêreld in die klaskamer in te bring. Die vakgroep bied spesialisasie in drie kernmodules, naamlik Rekeningkunde (ACCE), Besigheidstudies (BSTE) en Ekonomie (ECOE) vir die Voortgesette Onderwys en Opleidingsfase (FET), Graad 10–12. Studente-onderwysers in opleiding word opgelei om hierdie vakke volgens die Nasionale Kurrikulumverklaring van Suid-Afrika te fasiliteer, saam met beginsels van metodologie waar gespesialiseerde onderrigvaardighede en -praktyke vereis word. Studente-onderwysers in opleiding word opgelei volgens die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV), wat leiding verskaf om elke vak van die Suid-Afrikaanse kurrikulum te fasiliteer.

Studente sal in Rekeningkunde opgelei word om rekeningkundige kennis, vaardighede en waardes te fasiliteer wat op die toepassing van finansiële rekeningkunde, bestuursrekeningkunde en ouditering fokus. Dit sal leerders toerus met rekeningkundige konsepte en vaardighede om hulle vir ’n verskeidenheid werksgeleenthede voor te berei.

Besigheidstudies omvat die etiese en verantwoordelike deelname van die formele sowel as die informele ekonomiese sektor. Hierdie module sluit sakebeginsels, saketeorie en sakepraktyk in  wat tot die ontwikkeling van entrepreneursinisiatiewe, volhoubare ondernemings en die ekonomiese groei van ’n land lei.

Ekonomie bestudeer die manier waarop individue, sakeondernemings, regerings en ander organisasies binne ’n samelewing skaars hulpbronne gebruik om die behoeftes en begeertes te bevredig op ’n wyse wat doeltreffend, billik en volhoubaar is.

Die vakgroep berei ook studente-onderwysers voor om Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) in die Senior Fase, graad 7–9, te onderrig. Twee bykomende vakke word ingesluit om dit te kan doen, naamlik Entrepreneurskap in die Senior Fase (BSTG 111) en Ekonomie in die Senior Fase (ECNG 121).  

Graad opsies

Geskiedenisonderwys

Oorsig

Die vakgroep Geskiedenisonderwys val binne die Skool vir Besigheid en Sosiale Studies in Onderwys. Hierdie vakgroep se doel is om deur opkampus- en afstandsprogramme kennis en oefening te verskaf vir dié studente wat Geskiedenis-onderwysers wil word. Deur onderwysersopleiding van ’n hoë gehalte te verskaf, rus ons ons studente met die nodige onderrigvaardighede toe om uitmuntende Geskiedenis-onderwysers te word.

Die Geskiedenis vir Onderwys-groep bied in sy voorgraadse programme, asook in sy nagraadse honneursgraadprogram, ’n wye reeks temas wat met die skool se Geskiedenis-leerplan verband hou. Hierdie interverwante temas dek die volgende:

  • Europese geskiedenis
  • Afrika-geskiedenis
  • Suid-Afrikaanse geskiedenis
  • Streeks- en provinsiale geskiedenis

Die vakgroep streef daarna om in al sy programme leer en navorsing op ’n deurlopende basis te stimuleer om oorspronklike denke en kritiese perspektiewe te ontwikkel.

Graad opsies