Onderwys en Menseregte in Diversiteit-navorsingseenheid

Edu-HRight

Die Navorsingseenheid Onderwys en Menseregte in Diversiteit (Edu-HRight) is in 2013 in die Fakulteit Opvoedingswetenskappe van die NWU, Potchefstroomkampus gestig. Edu-HRight het met ’n aantal spesiale navorsers kontrakte gesluit om navorsing in die eenheid te doen: besoekende professors, postdoktorale genote, navorsingsassistente en internasionale medewerkers.  Lede van die eenheid doen hulle deel in nasionale en internasionale verenigings en is betrokke by navorsingsgenootskappe by internasionale instellings, en verskeie van die subareas en individuele lede in die eenheid is aktief by navorsingsaktiwiteit op nasionale en internasionale vlak betrokke.

Die visie van Onderwys en Menseregte in Diversiteit (Edu-HRight) is om ’n internasionaal-erkende leier te wees in maatskaplik-relevante maatskaplikegeregtigheids- en menseregteverwante navorsing, asook in onderwys vir Suid-Afrika en Afrika.

Ons missie is om ’n navorsings- en onderwysomgewing te skep en in stand te hou wat in die waardes van maatskaplike geregtigheid en menseregte in diversiteit gefundeer is.

Die waardes van Edu-HRight is ten volle belyn met dié van die Noordwes-Universiteit (NWU) met die oog op die deurlopende skepping van ’n kultuur wat hierdie waardes weerspieël.

Ons, die lede van Edu-HRight, glo dat:

  • Ons gemeenskap van vakkundiges gebou moet word op die soeke na kennis deur navorsing, onderrig en leer, en gemeenskapsbetrokkenheid, met lidmaatskap wat op grond van intellektuele verdienste, vermoë en die potensiaal vir uitmuntende, nougesette vakkundigheid verkry moet word.
  • Verskillende perspektiewe wat uit diverse agtergronde en geskiedenis spruit en wat die identiteite van ons subareas definieer, vakkundige navraag verdiep en akademiese debatte verryk.

Ons waardeer:

  • Akademiese vryheid, kreatiewe en innoverende denke, etiese standaarde en integriteit, aanspreeklikheid en eenheid-in-diversiteit.
  • Ons personeel en nagraadse kandidate, wat die kernbates van Edu-HRight uitmaak.

Ons koester:

  • ’n Ondersoekende en bewysgebaseerde benadering tot die skepping van kennis.
  • Akademiese burgerskap waardeur ons onsself sal verbind om ons intellektuele vermoëns in belang van ons nasie en die mensdom te benut.

Ons erken dat:

In ’n wêreld met min hulpbronne waar groot ongelykhede steeds bestaan, Edu-HRight – op ’n gereelde en volgehoue basis – navorsers (gevestigde, nuwe, genote en nagraadse kandidate) kweek wat die belangrikheid waardeer van
 
  • gemeenskappe wat by mekaar betrokke is;
  • entrepreneursondernemings; en
  • innoverende optrede
sodat vakkundige kennis, opvoeding, indiensneming en ontwikkeling in ons plaaslike kontekste bevorder kan word.
 

Ons doen navorsing oor menseregte en maatskaplike geregtigheid binne en vir opvoeding ten opsigte van:

Bio-Psigososiale Perspektiewe 

Shantha Naidoo

Gelei deur Dr S (Shantha) Naidoo

 

Hierdie subarea voer transdissiplinêre menseregteverwante navorsing uit wat die interverwantskap tussen fisieke, psigologiese, sosiale en omgewingsmilieus bevorder, teoretiseer en problematiseer. Bio-psigososiale perspektiewe herdefinieer en herkonseptualiseer relevante temas in die subsfere van:

  • Bio: psigososiale, neurologiese, kognitiewe en fisieke gestremdhede en vermoëns
  • Psigo: denkprosesse, emosionele prosesse, gedragskwessies, persoonlikheidseienskappe en selfregulering
  • Sosiaal: sosio-ekonomiese, sosio-omgewings-, kulturele en godsdienstige faktore, gemeenskappe en politieke invloede

Hierdie subsfere speel ’n rol in die fasilitering van die optimale holistiese welstand van mense binne hulleself, die samelewing en die omgewing.

Burgerskap

Shan Simmonds

Gelei deur Prof SR (Shan) Simmonds

Burgerskapopvoeding behels, maar is nie beperk nie tot, politieke, maatskaplike, burgerlike en kulturele dimensies. Dit betrek regte en voorregte, aanspreeklikheid en verantwoordelikheid. Dit vorm die grondslag van ons konseptualisering van ons veranderende eietydse wêreld onder die beskerming van die Verklaring van Menseregte.  Burgerskap word nie meer tot die parameters van die nasiestaat beperk nie. Dit word deur ’n kreatiewe spanning geherdefinieer as ’n meer komplekse stelsel wat die meervlakkige en onontbeerlike noodsaaklikhede van ’n nasionale, globale en “glokale” aard erken. Die wye aanvaarding en vestiging van die Verklaring van Menseregte as morele bestel of kompas regverdig ’n nuwe konseptualisering van burgerskapopvoeding. Dit beklemtoon die behoefte aan die herkonseptualisering van ’n nuwe vorm van en taal vir burgerskapopvoeding; ʼn taal wat in staat sal wees om burgerskapopvoeding te kan (her)mobiliseer, deur voortgesette sosiaal maatskaplike aangeleenthede soos, onder andere, vreemdelingevrees (xenofobie), homofobie en godsdienstige onverdraagsaamheid om te teoretiseer en te bevraagteken.

Dissipline 

Ferdinand Potgieter

Gelei deur Prof FJ (Ferdinand) Potgieter

Die doel van dissipline is om die rede vir en aard van gedrag, verhoudings en emosionele beheer in openbare en privaat instellings te verstaan en te bepaal. Kwessies van dissipline in instellings word nasionaal en internasionaal vanuit die veelvuldige perspektiewe van leerders, studente, onderwysers en ouers beskou. Sleutelareas van belang oor dissipline is, onder andere, geweld, treitering, aggressie, konflik en protesaksies.

Hierdie subarea erken die belangrikheid van die bevordering van kennis vir sosiale kohesie, morele heropbou, transformasie, beleid en bestuur in die lig van dissipline as hegemoniese konstruk en die potensiaal daarvan om ’n sorgsaamheidsetiek, estetika, waardes, norms en eise vir fatsoenlikheid te bevorder. Die bevordering van interdissiplinêre navorsingsnetwerke op die gebied van dissipline is noodsaaklik vir die verskaffing van riglyne vir die ontwikkeling van beleid en praktyk in instellings.

Diverse Kontekste

Celestin Mayombe

Gelei deur Dr C (Celestin) Mayombe

Menseregte-ongeregtigheid is in die multivlak-interverwantskap van diverse kontekste vasgelê.  Opvoeding, as diepgewortelde morele en etiese praktyk, is in sy wese beliggaam en vervat in openbare en privaat kontekste soos onder andere in skoolopleiding, hoër onderwys en in die breër samelewing. Binne hierdie kontekste omarm en problematiseer ons navorsing die konstitusionele waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid in ons navorsingstrewe ten opsigte van diversiteit in die mees genuanseerde sin (naamlik godsdiens, kultuur, ras, etnisiteit, ouderdom, gesondheid, gestremdheid en vermoë, nasionaliteit, taal, gender en seksualiteit) sodat transformatiewe en innoverende onderwys bedink en herbedink kan word.

Regsperspektiewe, Bestuur en Demokrasie

Nicholus Mollo

Gelei deur Dr NT (Nicholas) Mollo 

  • Ons navorsing fokus op regsdeterminante (byvoorbeeld wetgewing, beleid, hofsake, akademiese literatuur en empiriese data) wat onderwys in diverse kontekste beïnvloed en wat op die volgende betrekking het: die teoretiese en pragmatiese impak van regsbeginsels, bepalings en responsiewe ontwikkelings in die sfeer van die onderwys.
  • individuele geregtigheid, gemeenskapsregte, arbeidsverhoudinge, bestuur en leierskap binne openbare en privaat onderwyskontekste; en
  • die toepassing, verkryging en verbreding van substantiewe demokrasie in die onderwysstelsel.

Vergelykende Internasionale Perspektiewe

Ewelina Niemczyk

Gelei deur Prof EK (Ewelina) Niemczyk

Vergelykende Internasionale Perspektiewe fokus op opvoeding en menseregte in ’n diverse nasionale kontekstuele opset:

  • Opvoeding as mensereg
  • Menseregte-opvoeding
    • Opvoeding oor menseregte
    • Opvoeding deur menseregte
    • Opvoeding vir menseregte

Die doel van hierdie ondersoek is om te bepaal wat nasies van mekaar kan leer.  Die internasionale perspektief verwys na die studie van wêreldwye inisiatiewe soos die INCHEON-verklaring, Doelwit 4 van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, en die Verenigde Nasies se Verklaring oor Menseregte-opvoeding.

Spesiale aandag word aan opvoeding en menseregte in (i) Afrika en (ii) die BRICS-supranasionale groepering verleen.