Grondslagfase in Opvoedkunde

BEd graad in Grondslagfase

Kwalifikasie kode: 4BH J01 (Kontak)

Algemene oogmerk en doel van die BEd grondslagfase graad

Hierdie kwalifikasie is daarop gerig om onderwysers van Graad R tot Graad 3 op te lei. Dit is 'n 4 jaar kwalifikasie met 'n totaal van 527 krediete vir die program.

Die Grondslagfase is die eerste fase van formele skoolopleiding in Suid-Afrika. Dit behels onderrig van die Ontvangsjaar of “Reception year”, wat Graad R (5-6 jaar oud) genoem word,  tot en met Graad 3 (± 9 jaar oud). Die Grondslagfase-onderwyser speel 'n krities-belangrike rol om die grondslag vir toekomstige leer te lê. Die onderwyser is verder verantwoordelik vir die holistiese ontwikkeling van elke kind in die klas, die ontwikkeling en versterking van kritiese denke, lees, rekenkunde, sosiaal-emosionele en lewensvaardighede. Grondslagfase-onderwysers moet oor uitgebreide kennis beskik rakende kinderontwikkeling, ontwikkelingsvaardighede, fisieke, sensoriese, kommunikasie- en leerprobleme by die jong kind. Die onderwyser moet ontwikkelende en kultureel toepaslike aktiwiteite kan beplan wat diversiteit in die klaskamer aanspreek en 'n goeie geleentheid bied waar kinders hul vaardighede kan beoefen.

Die doel van die BEd Grondslagfase-program by die NWU (NKR-vlak 7) is om onderwysers te ontwikkel wat algemene onderwys sowel as fokuskennis, vaardighede en bevoegdhede vir onderrig in Graad R tot Graad 3 kan demonstreer. Die kwalifikasie vereis in-diepte, gespesialiseerde kennis in teorieë van onderrig en leer, tesame met praktiese vaardighede en ondervinding in die Grondslagfase-klasonderrigkonteks.

As deel van die kwalifikasie word van studente verwag om ondervinding op te doen in die toepassing van sodanige kennis, vaardighede, waardes en bevoegdhede in die konteks van onderrig vir Graad R tot Graad 3-leerders in skole. Die voorafgaande oogmerk is deel van die voorgeskrewe kurrikulum, wat gebaseer is op die samehangende en deurlopende verband met  die kernteorie van pedagogie, die teorie van onderrig en leer en die vakinhoud van Grondslagfase-onderrig.

Taal

‘n Verpligte Huistaal (HT) vir 4 jaar,  ʼn Eerste Addisionele Taal (EAT) vir 3 jaar, sowel as ʼn verpligte Taal vir Basiese Gespreksbevoegdheid (TBG) bepaal toelating tot die BEd Grondslagfase bo-en-behalwe die voorgeskrewe akademiese toelatingsvereistes. Tale beskikbaar om uit te kies as Huistaal soos op Senior- / Matrieksertifikaatvlak.

Huistaal (HT) en Eerste Addisionele Taal (EAT) moet geslaag word op vlak 4 (50%-59%). 

Engels Huistaal in die program vereis ten minste die slaag van Gr 12 Engels Eerste Addisionele Taal op vlak 5 – minimum 65%.

Kampus

 Tale

Mahikengkampus:

HT : English, Setswana. 

EAT: Afrikaans, English, Setswana.

Potchefstroomkampus

HT : Afrikaans, English,  Setswana. 

EAL: Afrikaans, English, Setswana.

Vanderbijlparkkampus:

HT : Afrikaans, English, IsiZulu, Sesotho.

EAL: Afrikaans,  English, IsiZulu, Sesotho.

Distance:

HT : Afrikaans, English, IsiZulu, Sepedi, Sesotho, Setswana.

EAL: Afrikaans, English, IsiZulu, Setswana.

Kontak besonderhede

 

         BEd Grondslagfase Programleier:

         Me Susan Maree

        +27 16 910 3141

        Susan.Maree@nwu.ac.za

 

        BEd Grondslagfase Program-koördineerder Potchefstroom:

        Me Nellytia Motaung

       +27 18 299 1713

        Nellytia.Motaung@nwu.ac.za

 

        BEd Grondslagfase Program-koördineerder Mahikeng:

        Mev Ellen Nkwe

       +27 18 389 8669 / 2669

        Ellen.Nkwe@nwu.ac.za

 

        BEd Grondslagfase Program-koördineerder ODL:

        Me Sandra Fourie

       +27 18 299 1858

        24095354@nwu.ac.za

Diploma in Graad R onderrig (OAL) 

Kwalifikasie kode: 490 1001 

Algemene doelwitte en doel van die Diploma in Graad R-onderrig

Die Diploma in Graad R-onderrig is ’n NKR-vlak 6-kwalifikasie wat uit 380/388 krediete bestaan. Die program gee erkenning aan die belangrikheid van moedertaalonderrig in die vroeë jare. Studente het dus ’n keuse tussen agt van Suid-Afrika se 11 amptelike tale ten opsigte van die ontwikkeling van hulle eie opvoedkundige inhoudskennis van ’n Huistaal (wat ooreenstem met die taal van onderrig en leer wat in die graad R-klaskamer gebruik word), ’n Eerste Addisionele Taal en die Gesprekstaal. Studente wat Engels Huistaal kies, moet ook een Afrika-taal met ’n module van agt krediete voltooi soos dit deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding vereis word en in die hersiene beleid oor die minimum vereistes vir onderwyser-opleidingskwalifikasies gestipuleer word. Studente wat Engels Huistaal wil kies, sal dus ’n totaal van 388 krediete voltooi om die Diploma in Graad R-onderrig te verwerf.

As deel van die driejaar-diploma in Graad R-onderrig word studente ook onder die toesig van ’n gekwalifiseerde onderwyser wat as mentor optree, gelei om kennis en vaardighede in die konteks van werk met graad R-leerders in ’n skool toe te pas.

Kurrikulumkode: O100P

Programkode: A GR R Oop Afstandsleer

Loopbaangeleenthede

Hierdie kwalifikasie is gerig op onder- en ongekwalifiseerde praktisyns wat reeds by ’n skool met ’n EMIS-nommer in ’n graad R-klaskamer praktiseer.

Die Departement van Onderwys het die gebrek aan gespesialiseerde opleiding op die gebied van graad R-onderrig, asook die tekort aan gekwalifiseerde graad R-onderwysers, as struikelblok in die voorbereiding van 5/6 jaar oue kinders vir formele skoolonderrig geïdentifiseer. Met die aanbieding van hierdie program wil die universiteit en die Fakulteit Opvoedkunde aandag die behoefte in die land verleen, en die kennisbasis van mense in die veld van vroeë kinderontwikkeling versterk. Met behulp van innoverende tegnologieë (byvoorbeeld interaktiewe witborde) hanteer die program ook die universiteit se visie vir innoverende onderwys, wat ’n geleentheid vir professionele ontwikkeling aan ’n wyer spektrum van die gemeenskap verskaf.

Hierdie afstandsleerprogram gee aan onder- en ongekwalifiseerde graad R-praktisyns toegang tot ’n hoëronderwyskwalifikasie sodat hulle as gekwalifiseerde onderwysers in die werkplek erken kan word.  Die kwalifikasie word deur die Departement van Basiese Onderwys erken en word beskou as ’n kwaliteitprogram wat praktisyns in staat stel om vir salarisdoeleindes vir die relevante REQV-vlak 13 te kwalifiseer.

Hierdie gespesialiseerde kwalifikasie sal aan die suksesvolle kandidaat die geleentheid gee om na ’n BEd (Grondslagfase)-kwalifikasie te vorder sodat status as ’n ten volle gekwalifiseerde Grondslagfase-onderwyser verkry kan word.

Toelatingsvereistes

Nasionale Senior Sertifikaat met Diploma-toelating of ekwivalent;

Of Vlak 4-sertifikaat/-diploma in Vroeë Kinderontwikkeling;

Of Vlak 5-sertifikaat/-diploma in Vroeë Kinderontwikkeling.

Werkgeïntegreerde leer (WIL)

Vir enige onderwyseropleidingsprogram om doeltreffend te wees, moet studente die geleentheid kry om hulle kennis in ’n klaskamersituasie toe te pas. Die Diploma in Graad R-onderrig bestaan dus uit ses Werkgeïntegreerde Leer-modules (WIL-modules). Studente sal een WIL-module per semester voltooi, met elke WIL-module wat agt krediete dra. Die doel van hierdie modules is om studente toe te rus met die nodige opvoedkundige kennis en vaardighede wat hulle in staat sal stel om die kennis wat hulle in hulle akademiese modules opdoen, te integreer met die lewensgetroue ervaring wat hulle gedurende werkgeïntegreerde leer in ’n skool verkry.  Die doel van hierdie modules is om die twee tipes praktiese leer, naamlik leer uit die praktyk en leer in die praktyk, te integreer. Die WIL-modules fokus op leer uit die praktyk deur studente te lei in die implementering van bevoegdheid wat op onderrigaktiwiteite gegrond is. Studente sal hierdie aktiwiteite onder die toesig van ’n mentor tydens die ses weke lange verpligte praktiese periode per jaar implementeer, en bewys van toegepaste bevoegdheid in die vorm van ’n omvattende werkgeïntegreerde portefeulje moet gelewer word.

Die skool waar die WIL geïmplementeer word, moet ’n EMIS-nommer (Education Management Information System-nommer) hê. Studente sal nie toegelaat word om hulle WIL by ’n skool sonder ’n EMIS-nommer te voltooi nie.

Duur van die studie

Die minimum duur van die studie vir die voltooiing van die Diploma in Graad R-onderrig is drie jaar, en die maksimum duur van die studie is vyf jaar.

Taal

Die studiemateriaal is in Engels en kontakgeleenthede word in Engels aangebied. Basiese vaardigheid in Engels is dus ’n voorvereiste vir suksesvolle voltooiing van die program. Program-eksaminering en werkstukke kan óf in Engels óf in Afrikaans ingedien word.

Vroeë kinderontwikkeling Honneurs en Meesters kwalifikasies

Ontwikkeling

Die Fakulteit van Opvoedkunde is besig om kwalifikasies vir Vroeëkindontwikkeling (VKO) op Honneurs- en Meestersgraadvlak te ontwikkel. Dit word gedoen ter ondersteuning van die universiteit wat daartoe verbind is om by te dra tot die transformasie van die onderwysstelsel deur die verskaffing van lewenslange leergeleenthede. Die Universiteit het begin met die ontwikkeling van die twee kwalifikasies as 'n verlenging van die huidige aflewering van die BEd Grondslagfase. Tans word die BEd in Vroeëkindersorg ontwikkel om in 2020 in die kontak en afstandsmodus aangebied te word.  'n Diploma in Vroeëkindersorg word ook ontwikkel om net in die afstandsmodus aagebied te word. Verdere inligting sal verskaf word sodra dit beskikbaar is.