Subareas

Assessering ter ondersteuning van Selfgerigte Leer

Subarealeier: Dr Anitia Lubbe

Assessering kan gebruik word as ʼn middel om volhoubare kapasiteit vir SGL te bou. Assessering om SGL te ondersteun is doelbewus ontwerp om te kapitaliseer op die impak van assessering van leer, assessering vir leer en assessering as leer. Assessering om SGL te ondersteun moet beweeg vanaf assessering van leer na assessering vir leer en assessering as leer om onderrig en leer in te lig. Die subarea fokus op die konstruksie van assesseringsaktiwiteite wat SGL-kapasiteite kweek. Ons wil studente voorberei wat in staat is om lewenslank self-evaluering te doen en voortdurend te leer. Assessering wat deur die leerders selfgerig is, verander van onderwyser-geïnisieerde tot self- en eweknie-geïnisieerde assesseringpraktyke. Dit kan in veelvuldige formate en metodes gebruik word, insluitend elektroniese-, prestasie-, portefeulje- en projekgebaseerde assessering. Die voorsiening van tydige terugvoer behoort een van die belangrikste doelwitte van assessering te wees om SGL te ondersteun.

 

 

Vervlegde leer ter ondersteuning van Selfgerigte Leer

Subarealeier: Dr Chantelle Bosch

Vervlegde leer is besig om onderwys te deurtrek, wat opvoeders dwing om bestaande vooronderstellings oor onderrig en leer in onderwys te konfronteer. Leiers van hoër onderwys word uitgedaag om hulle instellings te posisioneer om aan voornemende studente se eise vir konnektiwiteit te voldoen, sowel as aan hulle toenemende verwagtinge en vereistes vir gehalte-onderwyservarings. Gegewe die toenemende bewyse dat internet-inligting en kommunikasietegnologieë besig is om samelewings te transformeer, is dit goeie rede om te glo dat hierdie die bepalende transformatiewe innovering vir hoër onderwys in die 21ste eeu sal wees. ʼn Vervlegde leerbenadering voorsien vindingryke opsies om die verskillende behoeftes van die volgende generasie aan te spreek binne die raamwerk wat SGL voorsien.

 

 

Koöperatiewe en Probleemgebaseerde leer ter bevordering van Selfgerigte Leer

Subarealeier: Dr Suki van Zyl

Koöperatiewe leer is ʼn goedbeplande, doelgerigte onderrig-leerstrategie waar leerders in klein groepies saamwerk, op ʼn harmonieuse wyse, om hulle volle potensiaal te realiseer en hulle eweknieë in die groep te help om ook hulle volle potensiaal in leer te bereik. Dit is ʼn studentgesentreerde, aktiewe-leerbenadering wat gestruktureerde situasies gebruik waarin die groeplede op ʼn nie-kompeterende wyse in wisselwerking tree om ʼn gemeenskaplike doelwit te bereik. Vir koöperatiewe leer om effektief en suksesvol te wees moet die volgende basiese elemente in elke koöperatiewe leeraktiwiteit geïnkorporeer word: positiewe interafhanklikheid, individuele aanspreeklikheid, bevorderlike van-aangesig-tot-aangesig interaksie, toepaslike sosiale vaardighede, en groepprosessering. In die samewerkingsproses kan studente vaardighede ontwikkel wat ooreenstem met die bekwaamhede van ʼn selfgerigte leerder. In hierdie subarea fokus ons op die uitbou van koöperatiewe leer navorsing wat spesifiek Selfgerigte leer (SGL) bevorder.

Probleemgebaseerde leer (PGL) is ʼn onderrig-leerstrategie wat studente voorsien van ʼn in-diepte ondersoek na lewenswerklike probleme. Die vertrekpunt is ʼn swak-gestruktureerde lewenswerklike probleem met geen voor-die-hand-liggende oplossing nie. PGL is ʼn studentgesentreerde aktiewe strategie en word deur die dosent of onderwyser gefasiliteer. PGL kan georganiseer word rondom die oplossing van lewenswerklike probleme, ontwikkeling van projekte of die aanspreek van gevallestudies. PGL word hoofsaaklik in spanne toegepas waar alle lede verantwoordelikheid aanvaar vir die oplossing van ‘n probleem of ontwikkeling van ‘n projek. Dit noodsaak kritiese, innoverende en reflektiewe denke sowel as individuele aanspreeklikheid, interpersoonlike vaardighede en kollektiewe eienaarskap. Samewerking in spanne kan geleenthede skep vir die ontwikkeling van verskeie vaardighede wat onafhanklike en verantwoordelike leer kan bevorder. ‘n Spesifieke fokus van hierdie subarea is die gebruik van gevallestudies in voordiens-opleiding van studente onderwysers, en hoe dit die teorie-praktyk gaping kan oorbrug, en studente onderwysers van ‘n meer genuanseerde beeld van die professie kan voorsien.

 

Kognisie en metakognisie ter bevordering van Selfgerigte Leer

Subarealeier: Prof Bernadette Geduld

 

Kognitiewe strategieë is basiese verstandelike strategieë wat ons gebruik, byvoorbeeld, om te dink, te leer, inligting uit die geheue te herroep, afleidings te maak, teks te interpreteer en te verstaan, of ʼn probleem op te los. Kognisie aktiveer metakognisie wat die proses en produk van kognisie en prestasie reguleer, en word gebruik om die kognitiewe strategieë te verstaan wanneer mens probleme oplos of take uitvoer, is in lyn met leer om te leer, en kan van kognisie onderskei word deur bewustheid en selfgereguleerde prosesse. Selfgereguleerde leer word verstaan as leer- en motiveringsprosesse onderliggend aan studente se aannames van persoonlike verantwoordelikheid om te leer. Die geneigdheid om aan ʼn taak te dink – die taak metakognitief te konseptualiseer – en om metakognitiewe kennis en selfregulering te gebruik, word refleksie genoem. Kognitiewe strategieë help ʼn individu om ʼn bepaalde kognitiewe doelwit te bereik, en metakognitiewe strategieë word gebruik om te verseker dat die doelwit bereik is. Kognitiewe en metakognitiewe strategieë kan in dieselfde strategie oorvleuel, byvoorbeeld, wanneer mens vrae aan jouself stel terwyl jy studeer as ʼn manier om inhoudskennis te verkry, as ʼn manier om vordering te moniteer, en te verstaan wat en hoe jy studeer as gevolg van terugvoering van ander kognitiewe strategieë. Konstrukte en strategieë (doelwitstelling), wat elders ontwikkel is, en toepaslike studiegewoontes word geïmplementeer om studente te help om meer effektief te leer. Effektiewe denke hang dus af van die gelyktydige ontwikkeling van beide kognitiewe en metakognitiewe kennis en vaardighede. In hierdie subarea word navorsing gedoen oor kognisie en metakognisie met die spesifieke doel om selfgerigte leer te bevorder.

 

Speelgebaseerde leer ter bevordering van Selfgerigte Leer

Subarealeier: Dr Byron Bunt

 

"Pedagogie van speel" beklemtoon die opvoedkundige voordele van speel deur te redeneer dat speel die twee essensiële beginsels beskryf wat aan die basis van onderwys lê; spontane en natuurlike rigting aan die een kant, en voorneme aan die ander kant. Daar is 'n gebrek aan navorsing oor onderrig deur middel van speel, ten spyte van die feit dat daar baie navorsing oor leer deur middel van speel is. Die onwrikbare standpunt ten gunste van vrye speel en vrye keuse het die verband tussen speel en onderwys al lank 'n moeilike kwessie gemaak. Pedagogieë van speel word beskou as 'n voertuig om selfgerigte leer te fasiliteer. Alhoewel daar onlangse teoretiese en wetgewende veranderings was, is dit nou belangriker om die verskeie doelwitte en aard van speel in opvoedkundige omgewings beter te verstaan, sowel as die rol van opvoeders in die voorbereiding vir en betrokkenheid by leerling- en fasiliteerder-geïnisieerde take. Hierdie subgebied sal die ontwikkeling van die teoretiese grondslag van pedagogieë van speel lei, sowel as die natuurlike skakels om selfgerigte leer te ontwikkel. Die subgebied fokus op die gebruik van speel-gebaseerde strategieë, soos poppentoneel, drama en storievertelling, spelgebaseerde leer en gamifikasie, sowel as opvoedkundige boublokke en robotika om selfgerigte leer te bevorder.

 

Inheemse kennis en gekontekstualiseerde leer om Selfgerigte Leer te bevorder

Subarealeier: Prof Neal Petersen

 

Selfgerigte leer-navorsing moet op die individuele leerder fokus. Die vraag ontstaan of gemarginaliseerde leerders aan dieselfde geleenthede blootgestel word as ander leerders om as selfgerigte leerders te ontwikkel. Hierdie subarea fokus op (dikwels gemarginaliseerde) inheemse kennishouers, asook op leerders wat leerhindernisse ondervind wat selfgerigte leer negatief kan beïnvloed. Die houers van inheemse kennis was (en is) dikwels selfgerigte leerders, maar kan binne die konteks van multikulturele onderrig oor die hoof gesien word. ʼn Studie onder houers van inheemse kennis kan dus die navorser lei tot groter insig in selfgerigte leer. Die huidige inklusiewe onderrigkurrikula en -strategieë van wetenskap en wiskunde (-onderwysers) stel Westerse wêreldbeskouings sentraal ten koste van meer Afrosentriese of alternatiewe sienings binne die kultureel-diverse klaskamer. Dit kan lei tot onder-prestasie deur leerders. Die fokus in hierdie subarea is ook op die oorsteek van epistemologiese grense in die bestudering van komplekse sisteme. Die rol van die kunste in die natuurwetenskappe word onder meer ondersoek, en spesifiek die voordele wat poppespel in die klaskamer mag inhou wanneer aspekte soos inheemse kennis of etiek bespreek word. Hierdie subarea fokus voorts op onderwyseragentskap om sistemiese hindernisse in die onderwys, soos ʼn gebrek aan toerusting en apparaat, te oorkom, onder meer deur van goedkoop herwinde materiaal gebruik te maak om wetenskaponderrig te bevorder. Derde-generasie Kultuurhistoriese Aktiwiteitsteorie (KHAT) word as navorsingslens gebruik.

 

Akademieskap en praxis vir Selfgerigte Leer

Subarealeier: Prof Charlene du Toit-Brits

In hierdie subarea bou ons navorsing op die teorieë wat SGL in alle opvoedkundige sektore onderlê. Ons fokus op hoe SGL binne kurrikulumtransformasie, -ontwikkeling, -ontwerp en -implementering gekonseptualiseer kan word. Kurrikulumtransformasie binne die konteks van SGL impliseer ʼn proses van leer wat ʼn diep verandering voortbring in leergedrag, -houding en -praktyk van ʼn onafhanklike individu binne ʼn uitdagende omgewing vir die ontwikkeling van SGL-vaardighede. Die maniere waarop die kurrikulumdomeine van ontwikkeling, ontwerp en implementering SGL kan ondersteun, behoort verder nagevors te word. Ons navorsing het ten doel om die 21ste-eeuse werkplek en -leeromgewing in te lig ten einde lewenslange SGL te verhoog. Sonder deeglike kennis van teorieë en praxis van SGL is dit nie moontlik om akademieskap oor SGL binne die unieke Suid-Afrikaanse landskap in te lig nie.

 

 

UNESCO Leerstoel vir Multimodale Leer and Oop Opvoedkundige Hulpbronne

Prof Dorothy Laubscher

Die instelling van 'n leerstoel vir multimodale leer en oop opvoedkundige hulpbronne (OER) binne die Navorsingseenheid Selfgerigte Leer  aan die Noordwes-Universiteit (NWU) is in 2018 deur UNESCO goedgekeur. Die navorsing vir hierdie leerstoel fokus op oop opvoedkundige hulpbronne (OER) (gedeelde aanlyn-hulpbronne wat deur eweknie-beoordeel is, wat onderrigmateriaal, boeke, video's, lesse en selfs volledige kursusse insluit) en Multimodale leer (ook soms beskryf as vervlegde leer waar 'n mens van aangesig tot aangesig en e-leer-metodes kan meng.) Die doel van die Voorsitter is om (1) netwerke in Suider-Afrika rondom OER en multimodale leer te bou, (2) kapasiteit op te bou aan die NWU en in Suider-Afrika, (3) dosente op te lei in multimodale leer en die skepping en gebruik van OER, sowel as (4) navorsing oor OER en multimodale leer doen.