Tegnologie-ondersteunde koöperatiewe leer om selfgerigte leer te bevorder

Projekleier: Prof Elsa Mentz

Bron van befondsing: NNS-projek (2018 - 2020)

Doelwitte:

Die fokus van hierdie projek sal wees op die vestiging van effektiewe tegnologie-ondersteunde koöperatiewe leeromgewings om selfgerigte leer te bevorder. Onderwys- en ingenieurstudente van die NWU en studente van Unisa sal aan hierdie projek deelneem. Kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie (KHAT) gekombineer met die sosiaal-interafhanklikheidsteorie sal gebruik word as lens vir hierdie navorsing binne realisme as filosofiese paradigma. ʼn Kwalitatiewe en kwantitatiewe ontwerpgebaseerde benadering sal gevolg word om effektiewe koöperatiewe leerintervensies, ondersteun deur tegnologie, te ontwikkel, te implementeer en te evalueer, om selfgerigte leer in ʼn hoër onderwys-leeromgewing te bevorder. Die verwagte uitkoms is om ʼn raamwerk te ontwikkel vir die implementering van tegnologie-ondersteunde koöperatiewe leer, bevorderlik van selfgerigte leer. Hierdie raamwerk sal koöperatiewe leer-ingebedde assessering, die impak van eweknie-refleksies sowel as strategieë vir dieper leer insluit. Ons sal voorts riglyne voorstel om die effektiwiteit van die integrasie van die vyf elemente van koöperatiewe leer in ʼn tegnologies-ondersteunde koöperatiewe leeromgewing te evalueer. Met dié projek beoog ons uiteindelik om beleid van hoër onderwys-onderrig en -leer in te lig.

 

Multimodale multigeletterdhede ter ondersteuning van selfgerigte leer

Projekleier: Prof Jako Olivier

Bron van befondsing: NNS-projek (2018 - 2020)

Doelwitte:

Die doelwitte van hierdie navorsingsprojek sal wees om:

  • Multigeletterdhede in geselekteerde vakke met betrekking tot relevante beleidsdokumente en (gedrukte en elektroniese) handboeke te karteer.
  • Die benuttingsmoontlikhede van inheemse multigeletterdhede ter ondersteuning van selfgerigte leer deur die aflewering met behulp van digitale tegnologieë te bepaal.
  • Die wyse hoe individualisering en differensiasie van leer gefasiliteer kan word met betrekking tot multimodale selfgerigte leer te ondersoek.
  • Die bevordering van metakognisie deur middel van die pedagogie van multimodale multigeletterdhede na te vors.

 

Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne (OOH)

Projekleier: Prof Jako Olivier

Bron van befondsing: Interne befondsing (SDL)

Doelwitte:

Die doel van die projek is om (1) netwerke te bou rondom die gebruik van multimodale leer en oop opvoedkundige hulpbronne, (2) kapasiteitsbou by die NWU en in Suider-Afrika, (3) opleiding van dosente in die gebruik van multimodale leer en oop opvoedkundige hulpbronne en die (4) doen en verspreiding van navorsing.

Die projek sal ook:

  • die kwaliteit en kulturele toepaslikheid van die toepassing van selfgerigte multimodale leer ondersoek;
  • die effektiewe gebruik van mobiele toestelle (soos selfone en tabletrekenaars) vir selfgerigte multimodale leer bepaal;
  • data-ontginning van leerbestuurstelsels (soos eFundi) en interaktiewe studiegidse en toepaslike metadata verken;
  • die multigeletterdheidsaspekte (met betrekking tot taal-, visuele en rekenaargeletterdheid) soos benodig word deur kontak- en afstandstudente in 'n selfgerigteleerkonteks bepaal;
  • ondersoek hoe individualisering en differensiasie in 'n multimodaleleerkonteks geakkommodeer kan word en
  • die wyse waarop die gebruik, vestiging en aanvulling van oop opvoedkundige hulpbronne deur dosente ondersteunend kan funksioneer ten opsigte van multimodale leer in 'n selfgerigteleerkonteks.

 

Innoverende strategieë om meerjarige vraagstukke in wetenskaponderwys in Suid-Afrika aan te spreek

Projekleier: Dr Neal Petersen

Bron van befondsing: NNS-projek (2018 - 2020)

Doelwitte:

Die volgende doelwitte sal hierdie navorsing rig:

HOOFNAVORSINGSDOELWIT

Eerstens, deur gebruik te maak van die derdegenerasie-kultuurhistoriese aktiwiteitsteorie (KHAT) as ʼn navorsingslens sal hierdie ontwerpgebaseerde navorsing wetenskaponderwysers se ondervindings van die intervensie vaslê om moontlike faktore te identifiseer wat hul verhinder om hierdie pedagogieë te gebruik. Daar sal ook bepaal word of hul deelname aan die intervensie ʼn invloed sal hê op hul selfgerigtheid in leer deur vas te stel hoe hulle hul eie professionele ontwikkelingsdoelwitte nastreef.

HOOFINTERVENSIEDOELWIT

Tweedens, ten einde data in te samel om die navorsingsdoelwit soos hierbo genoem, te bereik, sal kortleerprogramme (KLP’e) (die intervensie) ontwikkel word waarin wetenskaponderwysers deur middel van opleiding en die voorsiening van hulpbronne bygestaan word in die gebruik van innemende pedagogieë om blywende vraagstukke in wetenskaponderwys aan te roer. Die intervensie behels die gebruik van innemende pedagogieë soos die gebruik van alledaagse goedkoop materiaal (science-on-a-shoestring) om die beginsels van die aard van wetenskap in die klaskamer met onvoldoende hulpbronne, ondersoekendeleer, poppespel, koöperatiewe leer (KL), projekgebaseerde leer (PrGL) en probleemgebaseerde leer (PGL) onderrig-leerbenaderings te verwesenlik ten einde deelnemende wetenskaponderwysers se pedagogiese inhoudskennis (PIK) en hul selfgerigtheid in leer te ontwikkel.

SEKONDÊRE NAVORSINGSDOELWITTE

1. Om die KLP te ontwikkel waaraan wetenskaponderwysers sal deelneem deur gebruik te maak van ondersoekendebenaderings in die klaskamer deur alternatiewe (science-on-a-shoestring) benaderings te gebruik. Die beoogde projek sal onderwysers wat hierdie KLP’e bywoon van bekostigbare wetenskap-toestelle voorsien wat in klaskamers met onvoldoende hulpbronne gebruik kan word. Die navorsers sal bepaal of dit meer ondersoekendebenaderings in die wetenskapklaskamer meebring.

2. Om die waarde van poppespel te bepaal in die onderrig van wetenskapleerders oor die aard van wetenskap, inheemse kennis, gesondheidsvraagstukke, MIV/VIGS, sosiale geregtigheidskwessies en omgewingsvraagstukke.

3. Om die effek te bepaal van die gebruik van die VIGS-toestel en papiermikroskope (foldscope) in die wetenskapsklaskamer, en om wetenskapsonderwysers se standpunte vas te stel oor hul eie PIK-ontwikkeling as gevolg van die intervensie.

4. Om onderwysers se standpunte vas te stel oor hoe die VIGS-toestel en papiermikroskope leerders se begrip van die aard van wetenskap tydens die implementeringsfase ondersteun.

5. Om wetenskaponderwysers se standpunte vas te stel oor die gebruik van die DNS- en proteïensintese-toestelle in die Lewenswetenskap-klaskamer en hoe hulle PIK gedurende die KLP ontwikkel kan word.

6. Om wetenskaponderwysers se PIK te ontwikkel deur hulle die geleentheid te bied om deel te neem aan die ontwikkeling van leerervarings, wat leerders se werklike ervarings (gekontekstualiseerde wetenskaponderwys) gedurende die KLP insluit.

7. Om wetenskaponderwysers se werklike ervaringe van die gebruik van die DNS-toestelle te beskryf, en of die gebruik daarvan wel hul sienings oor sosiale geregtigheidskwessies beïnvloed het.

8. Om vas te stel watter faktore wetenskaponderwysers verhinder om goedkoop alternatiewe benaderings tot onderrig te gebruik, en om hul agentskap te ontwikkel om innoverende idees in die toekoms te gebruik in die afwesigheid van voldoende hulpbronne.

9. Om voor en ná die intervensie wetenskapsonderwysers se standpunte vas te stel oor die gebruik van goedkoop alternatiewe benaderings.

10. Om wetenskapsonderwysers se PIK (rakende ondersoekleer, PGL, PrGL en KL) tydens die KLP te ontwikkel.

11. Deur gebruik te maak van die KHAT as 'n navorsingslens om die probleme te identifiseer wat wetenskaponderwysers ondervind tydens die implementeringsfase van innemende pedagogieë.

12. Om die waarde van innemende pedagogieë vir selfgerigte leer te bepaal.

 

Versterking van ingenieurstudente se selfgerigte leer deur probleemgebaseerde leer

Projekleier: Prof Marietjie Havenga

Bron van befondsing: NNS-projek (2017 - 2019)

Doelwitte:

  • Hoofnavorsingsdoelwit: Om te bepaal tot watter mate ingenieurstudente se selfgerigte leer versterk kan word deur die bekendstelling van die probleemgebaseerde strategie.
  • Om te bepaal tot watter mate koöperatiewe elemente PGL kan ondersteun om studente se selfgerigte leer te versterk.
  • Om te bepaal tot watter mate vervlegde leer PGL kan ondersteun om studente se selfgerigte leer te versterk.
  • Om te bepaal tot watter mate assessering PGL kan ondersteun om studente se selfgerigte leer te versterk.
  • Om te bepaal tot watter mate die integrasie van PGL ingenieurstudente se selfgerigte leer versterk en aan te dui hoe die aard van hierdie verandering SGL versterk.
  • Om by te dra tot kennisproduksie met betrekking tot die versterking van ingenieurstudente se selfgerigte leer deur die bekendstelling van PGL.

 

Die rol van inheemse kennis vir Selfgerigte Leer

Projekleier: Prof Josef de Beer

Bron van befondsing: NNS-projek (2016 - 2018)

Doelwitte:

Die doelwitte van hierdie navorsingsprojek sal wees om te bepaal:

  • Hoe inheemse kennis die beste geïnkorporeer sou kon word in die skool se KABS-kurrikulum in wetenskap, wiskunde en tegnologie.
  • Hoe wetenskap-, tegnologie- en wiskunde-onderwysers inheemse kennis beskou voor en na ʼn drie-dagkortkursus oor inheemse kennis.
  • Hoe onderwysers probleemgebaseerde leer en koöperatiewe leerbeginsels gebruik om in hulle klaskamers onderrig oor inheemse kennis te gee.
  • Watter probleme onderwysers ervaar met die oordrag van kennis van en vaardighede in inheemse kennis in hulle klaskamers.
  • Hoe die intervensie oor inheemse kennis selfgerigte leer onder onderwysers en leerders sou kon bevorder.

 

Onderrig aan WTIW-onderwysers deur praktisyne van Inheemse Kennisstelsels

Projekleier: Prof Josef de Beer

Bron van befondsing: NNS-projek (2016 - 2018)

Doelwitte:

Die doelwitte van hierdie navorsingsprojek sal wees om te bepaal:

  • Hoe inheemse kennisdraers (en -museums) ʼn derde party in die skool-universiteit waardeketting sou kon word.
  • Hoe onderwysers by die draers van inheemse kennis self sou kon leer oor inheemse kennis in outentieke situasies.
  • Of die draers van inheemse kennis selfgerigte leerders is.
  • Hoe inheemse kennis, as ʼn middel om kurrikula beter te kontekstualiseer, SGL sou kon bevorder.
  • Hoe Kultuurhistoriese Aktiwiteitsteorie (KHAT) die beste gebruik sou kon word as ʼn navorsingslens in die studie van inkorporering van inheemse kennis in die WTIW-klaskamer.

 

Onderwysers sonder Grense: Die skepping van inheemse kennis wetenskaplaboratoriums in plattelandse skole

Projekleier: Prof Josef de Beer

Bron van befondsing: Fuchs Stigting (2016 - 2019)

Doelwitte:

Die doelwitte van hierdie navorsingsprojek sal wees om te bepaal:

  • Hoe onderwyserbemiddeling ontwikkel en ondersteun sou kon word in WTIW-vakke.
  • Hoe bekostigbare wetenskapstelle die beste gebruik sou kon word om probleemgebaseerde leer in die klaskamer te bevorder.
  • Hoe projekgebaseerde leer, met die gebruik van hulpbronpakkette wat ontwikkel is, SGL sou kon bevorder.
  • Hoe ʼn pedagogie van speel, deur van poppespel gebruik te maak, gebruik sou kon word om leerders van ʼn meer genuanseerde begrip van die aard van wetenskap en inheemse kennis te voorsien.
  • Hoe onderwysers se professionele ontwikkeling verryk sou kon word deur praktiserende gemeenskappe wat goed funksioneer.

 

Bevordering van Aspekte van Selfgerigte Leer deur Verpersoonlikte en Adaptiewe Instruksie-ontwerp in Aanlynleeromgewings

Projekleier: Prof Christo van der Westhuizen

Bron van befondsing: Gesamentlike navorsingsprojekbefondsing: Swiss Distance University of Applied Sciences en NWU

Doelwitte:

Die doelwit van hierdie studie is tweevoudig. Eerstens, om die aspekte te bepaal wat SGL en domeinspesifieke vaardighede deur verpersoonlikte en adaptiewe instruksie-ontwerp in aanlynleeromgewings bevorder, en tweedens om ʼn raamwerk voor te stel vir die ontwerp van op-aanvraag domeinspesifieke SGL aanlynleeromgewings vir verpersoonlikte en adaptiewe leerervarings. ʼn Aantal domeinonderwerpe van Natuurwetenskappe is gekies om as voorbeelde te dien. Hierdie studie word ook gerig deur die volgende drie-vurknavorsingsvraag om te bepaal:

  • Tot watter mate dit moontlik is om domeinspesifieke kennis met adaptiewe instruksie te bevorder wanneer selfregulerende en studentebeheer oor die leeropdragte geïmplementeer word (met inagneming van voorkennis, prokrastinasie, inskakeling, sowel as steurings tussen leeraktiwiteite en prestasie-/gedragmeting).
  • Watter domeinspesifieke tegnologiegebaseerde omgewings ontwerp behoort te word om die relevante selfgerigte vaardighede te ontwikkel wat studente na daaropvolgende leersituasies sal oordra.
  • Watter faktore oorweeg moet word om op skaal Adaptiewe Tegnologiegebaseerde leerstelsels in ʼn universiteit te implementeer (gevalbasisse: SDUAS en NWU).

 

Integrated TouchTutorTM Mathematics Development and Support Project (ITSP)

Projekleier: Prof Hercules Nieuwoudt

Bron van befondsing: THRIP; 4de-geldstroom

Doelwitte:

ʼn Aflyn-tablet-ondersteunde portuurondersteuning-loodsprojek in same­werking met die Govern Mbeki Math Development Centre, NMMU

  • Om ʼn professionele leergemeenskap (PLG) van in-diens Wiskunde-onderwysers by projekskole te vestig en te ondersteun ten einde die effektiewe aflewering van die kurrikulum in hulle klasse te bevorder.
  • Om ʼn effektiewe Tablet&TouchTutor® inkubasie- en steunprogram op Saterdae vir geselekteerde Graad 10-12 Wiskundeleerders te implementeer ten einde selfgerigte leer te ontwikkel en te gebruik om Wiskunde-inhoudgaping aan te spreek te oorbrug en om die gaping tussen sekondêre en tersiêre onderwys ten spyte van sosio-ekonomiese uitdagings suksesvol te oorbrug.

 

Konseptualisering van Selfgerigte Leer in Suid-Afrika: Praxis vir Volhoubare Bemagtigende Leeromgewings

Projekleier: Prof Charlene du Toit-Brits

Bron van befondsing: SDL-projek

Doelwitte:

Die oorhoofse doelwit is om SGL te konseptualiseer binne die unieke Suid-Afrikaanse konteks om ALLE onderrig-omgewings te verbeter wat effektiewe SGL-praktyke in Suid-Afrikaanse skole tot gevolg sal hê.

Die potensiaal van die aanvaarding en implementerig van hierdie voorgestelde raamwerk sluit in:

  1. effektiewe selfgerigte leer in die benadeelde leerder;
  2. vermeerder SGL-vaardighede van hierdie leerders, sowel as ander leerders in dieselfde klaskamer, waar hulle verantwoordelikheid vir hulle eie leer kan aanvaar; en
  3. ʼn toename in hierdie leerders se akademiese, emosionele en/of kulturele gereedheid wat hulle vermoë en/of gereedheid kan verbeter om lewenslank selfgerigte leerders te wees.

Hierdie raamwerk kan ook gebruik word as bystand vir onderwysers om selfgerigte leerders te kultiveer. Onderwysers moet ook leerders se omgewings in ag neem wanneer SGL in die klaskamer aangewend word.

Die volgende doelwitte is vir hierdie navorsing geformuleer:

Doelwit 1:

  • Om te bepaal hoe SGL binne ʼn unieke Suid-Afrikaanse omgewing gekonseptualiseer kan word om leerders as selfgerigte leerders te kultiveer;

Subdoelwit i: Om hierdie doelwit te verwesenlik, wil ons bepaal watter elemente van ʼn leerder se bestaan aangespreek moet word wanneer ʼn SGL-omgewing binne die Suid-Afrikaanse onderwysomgewing gebou word.

Subdoelwit ii: Om die invloed te bepaal van die verhouding tussen SGL en hierdie elemente (geïdentifiseer in Doelwit 1) op leerders se vermoë en gereedheid om effektiewe selfgerigte leerders te wees.

Doelwit 2:

  • Om ʼn raamwerk te formuleer waarvolgens SGL effektief in klasse toegepas kan word om ʼn kultuur van SGL in Suid-Afrikaanse klaskamers te bou.

 

Dosente se skriftelike terugvoerpraktyke op studente assessering ter ondersteuning van self-gerigte leer: ‘n gevallestudie

Projekleier: Prof Kobus Lombard

Bron van befondsing: Interne befondsing (SDL)

Doelwitte:

Die doelwitte van hierdie navorsingsprojek sal wees om:

  • Die teoretiese grondslae van terugvoer op studente assessering wat met die idee van self-gerigte leer resoneer bloot te lê.
  • Dosente se beskouinge van terugvoer op studente assessering wat met die idee van self-gerigte leer verband hou vas te stel.
  • Vas te stel hoe dosente skriftelike terugvoer, wat met die idee van self-gerigte leer verband hou, op studente assessering verskaf.